‘'n Suid-Afrikaanse perspectief’
aanpak/methode 2006

Hoewel Suid-Afrika geografies ’n veel groter land as Nederland is en hoewel ons huise en erwe en tuine veel groter is, het ek in Nederland heelwat meer bevry en onbevange gevoel. Die rede? In Nederland het ek byna nooit mure, hekke, tralies, heinings en veiligheidstelsels gesien nie. Sitkamergordyne is oopgetrek, voordeure sit byna reg op die straat, huise is styf teen mekaar gebou en mense woon naby aan mekaar, niks word van mekaar geskei deur hoë mure nie. Wanneer jy by die venster uitkyk, is jou sig onbelemmerd – daar is geen diefwering waarin jy vaskyk nie.

 
Toe ek in Desember 2005 vir die Huisboomfeest-projek deur Sint Joseph Straat in die Piushavengebied, Tilburg, geloop het, is dit presies dít wat ek raakgesien het. Die mense woon na-aan mekaar, maar hulle het vrye toegang tot alle gebiede. Die huise is klein (vanuit my perspektief), maar vryheid van beweging is soveel makliker.

Sint Joseph Straat
Wanneer ’n mens deur Sint Joseph Straat in die Piushavengebied, Tilburg, loop en fyn om jou rondkyk, kan ’n mens deur middel van tekens soos huise en tuine, of die gebrek daaraan, afleidings maak van die mense wat daar woon en werk. Vir hierdie studie is die deel van Sint Joseph Straat tussen Ringbaan Oost en Boerhavestraat bekyk. ’n Verskeidenheid funksies en kontraste word in die straat aangetref en dit is moeilik om die straat te definieër. Is dit ’n residensiële gebied of is dit ’n kommersiële gebied? Of is dit albei?

Waarnemings
Op die groot hoek waar Sint Joseph Straat met Ringbaan Oost kruis, is verskeie teenstrydighede te sien. Aan die een kant is daar groot, netjiese dubbelverdieping woonhuise wat met donker stene gebou is en redelik nuut lyk. Die meeste van die gordyne is toegetrek, al die vensters en deure is toe en die huise lyk stil en bot. Tussen die huise en die straat is daar breë oop stukke stoep of tuin – met ander woorde as jy by die voordeur uitkom loop jy nie dadelik in die straat in nie.

Reg oorkant die huise, aan die ander kant van die straat, is ’n groot oop hek met ’n blou en geel naambord waarop staan Openbare Werken Tilburg. Die konsep “openbaar” word geïllustreer deur die groot hek wat wawyd oop staan. Dit lyk asof enigiemand sommer net kan ingaan.

Direk langsaan die Openbare Werken is die Rooms-Katolieke begraafplaas Parochie Heuvel. Die begraafplaas lyk mooi en goed versorg met baie bome en plante. Al die groenigheid skep ’n natuurlike en rustige gevoel. Waar die oorkant van die straat (met die donkerbruin dubbelverdieping woonhuise) toegebou is, is die kant van die begraafplaas oop en groen.

In teenstelling met die huise aan die oorkant van die straat, waar daar geen mure of omheinings is nie, is die begraafplaas met ’n tralieheining omring. Die tralies is ongeveer 5 tot 10 cm van mekaar, dus kan ’n mens maklik deur die heining sien. Die huis reg oorkant die begraafplaas het aan die voorkant ’n soort toegerankde heining so hoog soos die eerste verdieping waardeur ’n mens nie kan sien nie. By die teken van die verlede, die begraafplaas, kan ’n mens inkyk, maar by die teken van die hede, hierdie huis, kan ’n mens nie inkyk nie.

Vir my as Suid-Afrikaner, wat veral ook die afgelope twee jaar in Johannesburg (die grootste stad in Suid-Afrika) gewoond geraak het aan mense se huise wat amper soos tronke is weens al die hekke en mure, is dit ’n wonderlike, pragtige gesig dat in Sint Joseph Straat, nes in omtrent die hele Nederland, byna geen omheinings of diefwering is nie. Dit skep ’n gevoel van oopheid, toeganklikheid en onbevangenheid. Enigiemand kan inloop of uitloop. Veiligheid kan dus ook nie ’n probleem wees nie want duidelik ag die inwoners van die straat dit nie nodig om hulself agter hoë mure toe te sluit nie.

Een van die huise oorkant die begraafplaas het ’n lae muurtjie. Dit lyk egter of dit eerder bedoel is om die erf af te baken as om mense buite te hou. Die tralieheining rondom die begraafplaas blyk ook nie ’n veiligheidsmaatreël te wees nie, maar eerder net ’n omheining aangesien enigiemand maklik oor die heining sal kan klim.

Die stuk van Sint Joseph Straat wat die naaste aan Ringbaan Oost is, is ’n besige stuk straat met baie verkeer. Ook binne die begraafplaas kan ’n mens nie van die nimmereindigende verbyjaag van motors ontsnap nie. Hoe kan besoekers aan die grafte ooit rustig raak met al die geraas van die verkeer?

Ek vind dit regtig vreemd dat die begraafplaas sommer so tussen die woonhuise is. Dit is nie iets waaraan ek gewoond is nie. Die begraafplaas is omring met rytjieshuise waarvan die boonste verdiepings afkyk op die grafte. Ek vind dit eienaardig en grieselrig dat mense in hulle slaapkamer of badkamer kan staan en afkyk op die grafte. Inderdaad ’n sigbare manier hoe hede en verlede vermeng. Aan die een kant lê diegene wat heengegaan het en net ’n paar meter verder gaan dié wat nog lewe voort met hulle daaglikse roetines.

Tog kan die oopheid en die groenheid van die begraafplaas ’n sekere mate van rustigheid en statigheid aan die straat verleen. Dit bied ’n anker met die verlede.

Die begraafplaas self is ook ’n vermenging van hede en verlede want binne die begraafplaas vind ook veranderinge plaas en is daar ook aktiwiteit. Party van die grafte het vars blomme – dis ’n teken dat familie of vriende die graf onlangs besoek het en nog betrokke is by die persoon wat begrawe is. Ook was daar ’n splinternuwe graf – heeltemal bedek met vars blomme en nog sonder ’n grafsteen. Die helder nuwe blomme staan in skrille kontras met die grys grafte wat al vir jare bestaan. Duideliker kan hede en verlede nie geïllustreer word nie. Die feit dat daar ’n nuwe graf gegrawe is, dui daarop dat die begraafplaas nog gebruik word en nie net bestaan uit ’n klomp ou grafte waarvan mense lankal vergeet het nie. Op sommige van die grafte was ook Kersversierings te sien. Só bly die grafte “in voeling met die tyd” en is dit ’n teken dat die naasbestaandes tydens die feesseisoen aan die oorledenes dink.

Alhoewel die begraafplaas oop en toeganklik lyk, is dit wel sekere tye van die week gesluit. Die openingstye is van Maandag tot Vrydag tussen 08:30 en 17:00 en op Saterdae en Sondae tussen 11:00 en 17:00. Toegang word dus gereguleer en tensy hulle oor die heining klim, sal boosdoeners nie snags die grafte kan plunder nie. (Iets wat in Suid-Afrika nie ongewoon sal wees nie.)

Sint Joseph Straat se kruising met Hogendriesstraat is vir my eg Nederlands. Daar is genoeg oop spasie en parkeerplekke buite. Geen motors staan agter hekke nie (en ek sien ook nie baie motorhuise/garages nie) en die huise se voordeure is sommer naby aan die straat. (In Suid-Afrika is dit nie wys om in die nag jou motor op straat te parkeer nie.) Die huise is ook, vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief gesien, naby aan mekaar. Waarskynlik is die inwoners van die huise welvarend, want volgens Nederlandse standaarde lyk hierdie huise relatief groot. Die huise is dubbelverdieping, losstaande en lyk nuut. In Suid-Afrika sal welvarende mense se huise altyd omhein en beveilig wees en ’n mens sal nie sommer van die sypaadjie af maklik by die voordeur kan uitkom nie. Hier kan ’n mens egter maklik digby die huise kom.

In teenstelling met rytjieshusie laer af in die straat kan ’n mens verskeie kante en dimensies van hierdie huise sien – byvoorbeeld ook hoe die huise aan die sykante lyk. In die geval van die rytjieshuise is net die voorkante sigbaar.

Wanneer ’n mens aan die einde van die begraafplaas kom, is daar by die kruising met Prinseshoeven Straat, skielik ’n besige kruising. Vlakby die sirkel is ‘n strak, wit gebou wat nie goed versorg lyk nie. Dit is die kuierplek Plato en die gebou lyk baie oud. Die eerste deel van Prinseshoeven is vol sakeondernemings – van ’n doen-dit-self winkel (Hamers – Doe Het Self) tot die kuierplek. Dit staan in kontras met die begraafplaas en woonhuise net ’n paar meter verder en beklemtoon die skisofreniese aard van die straat – ’n straat met vele funksies en verskillende voorkomste.

Reg oorkant Plato, aan die kant van die begraafplaas, is daar ’n erf wat soos ’n ou plaaswerf lyk. ’n Groot oop ingang, ’n oop werf en ’n voertuig wat soos ’n klein vragmotor (trok) lyk. Die huis lyk as’t ware na ’n ou waenhuis met staldeure. (Dit is dubbeldeure met geboogde bokante.) Teen die muur is ’n ou blou blikplaat waarop die straatnaam staan – dit lyk outyds en getuig van ’n vervloë era. Skaars ’n halfmeter verder, staan ’n moderne paal waarop die straatnaam op ’n hedendaagse manier aangebring is. Die twee verskillende manier waarop Sint Joseph Straat se naam aangebring is, is ’n teken dat die straat van ver in die verlede kom, maar ook nog vandag aktief is.

In Sint Joseph Straat word daar nie baie kleure aangetref nie. Hoofsaaklik donkerbruin baksteen, wit af en toe (soos die gebou wat Plato huisves) en dan helder blou en geel. Net soos met die blou en geel naambord van Openbare Werken Tilburg staan die blou en geel naambord van Hamers – Doe Het Self ook in hierdie deel van die straat in kontras met die donker huise en veral met die outydse huis reg oorkant die sirkel. Die helderkleurige naamborde is ’n teken van modernisering en kommersialisering en helder kleure word gebruik om klante en kopers se aandag te trek. Sint Joseph Straat kan nie regtig ’n identiteit vorm as óf ’n moderne straat óf ’n historiese straat nie. In Prinseshoeven Straat is Plato byvoorbeeld aangrensend aan ’n moderne gebou. Dis asof die straat maar so ontwikkel het soos daar nuwe funksies bygekom het.

Ná die sirkel tref ’n mens teen die een kant van die straat rytjieshuise aan (met geen tuine) en aan die oorkant van die straat ’n groot woonstelgebou met oop stukke grasperk. Hierdie deel van die straat is ook baie rustiger met minder motors wat heen en weer ry. Waar die dubbelverdiepinghuise tuine aan die voorkant gehad het, sit die rytjieshuise reg langs die straat. Daar is egter een uitsondering.

Die rytjieshuise lyk of hulle uit die negentiende eeu dateer terwyl die groot woonstelblok aansienlik meer modern lyk. Die woonstelblok is ook omring met ’n tralieheining met skerp punte bo-op. Die skerp punte bo-op lyk asof dit ’n veiligheidsmaatreël is om dit moeilik te maak vir mense om bo-oor die heining te klim. Ek begryp nie waarom hierdie woonstelblok omring is en feitlik geen ander huis of woonstelblok wat ek al in Tilburg gesien het is nie. (Tensy mense in hierdie blok troeteldiere kan aanhou en die heining daar is om die diere binne te hou.)

Tussen die rytjieshuise, letterlik langs ’n huis se voordeur, is ook een of twee klein sakeondernemings soos die Era Tilburg Makelaar en die Theo Pastoor Echte Bakker. Weer eens uit my Suid-Afrikaanse perspektief is dit eienaardig om te sien ’n bakkery is reg langs iemand se voordeur. Ten tye van my besoek was die bakkery druk besig en dit is duidelik dat die mense van die omgewing hom goed ondersteun. Die bakkery is waarlik deel van die buurt en die mense in die straat kan die winkel baie maklik bereik. Só word die kommersiële met die residensiële vermeng en kan die twee funksies by mekaar baat vind. Die bakkery is klein en maak nie ’n geraas nie so dit behoort nie die rus en vrede in die woonbuurt te hinder nie.

Ook by die rytjieshuise is die meeste van die vensters toe. Is dit omdat daar binne die huise verwarmers aan is? Die straat is hier ook heelwat nouer as die deel aan die begin by Ringbaan Oost wat my laat dink hierdie deel van die straat is ouer. (Die huis wat soos ’n waenhuis lyk kan miskien daarvan getuig.)

Gevolgtrekking
Sint Joseph Straat is vir my eg Nederlands as gevolg van al die motors wat buite in die straat staan, spesiale paadjies vir fietsryers en voetgangers, die gebrek aan mure en diefwering en die donkerbruin stene waarvan die huise gebou is. Alhoewel daar ’n groot begraafplaas is en ’n paar sakeondernemings, bestaan die straat tog meestal uit woonhuise en woonstelle. Ten spyte van die paar sakeondernemings kom die straat steeds rustig voort. Die enigste geraas is die motors wat in die straat verbyjaag en veral by die sirkel by Prinseshoeven Straat. Miskien is Sint Joseph Straat ’n soort grens waar die woongebied en sakegebied bymekaar kom en waar die begraafplaas, wat dalk jare gelede buite die stad gelê het, nou met verloop van tyd deel van die stad geword het. Dit is ’n teken dat Sint Joseph Straat nie ’n vergete straat is nie, maar ’n straat waar dinge gebeur.


 Jacolette Kloppers
24-03-2006

meer weten over semiotiek?


 
 Bart Doreleyers
over de Koopboulevard Leyparc
over de AaBé-fabriek

 Irene Habets
over de historische tekens bij St Josephstraat 64a en omgeving
over de Koopboulevard Leyparc

 Nathan de Groot
over de St Josephstraat 51
over de Hoevenseweg

 Tom van Nuenen
over de Prinsenhoeven 5 (dealer)
over de St Josephstraat / Oisterwijksebaan